My kind se Kiwi psigiater is ‘n Brasiliaanse Jood wat sandale en jeans dra; ek voel heeltemal oordoen met my Mi Piaci bloedrooi plathak sandale met goue gespes. Ek hou versigtig my knieë bymekaar dat hy nie dink my somersrok is te kort nie.
Ons praat oor Ritalin v. Concerta – jip, drugs vir skool – en dan oor die lewe. Wat hy dink van Trump en Putin en global warming. Ons maak ‘n draai by Jung, narcissisme en die ego. Die tyd is te min, ek betaal hom per minuut, maar ek wonder tog soms of ek hom nie moet vra of hy wil gaan koffie drink nie.
Soms loop mens mense raak in die lewe met wie jy net ‘n vervlietende kontak kan hê, maar daar bly die dralende behoefte aan meer – meer diepte, meer tyd, meer kennis. Óf jy, óf hulle, is in ‘n professionele hoedanigheid in die gesprek, en dus is die mededelings kortstondig en vlugtig. Maar jy kry ‘n kykie in ‘n ander se siel en denke, en dit fassineer my nog altyd.
Ek hou nie van cocktail parties nie, ek verpes eintlik small talk sonder ‘n doel. Ek vind gesprekke in ‘n besige restaurant of pubs moeilik, want ek kan nie hoor bo die gedruis nie, en mis dikwels van die jargon, sodat ek teen die derde opmerking moet vra, “Waarvan praat ons nou eintlik?” In groepe probeer mense hulself interessant maak deur vinnige spitsvondige opmerkings, en voordat mens kan aanhaak, beweeg die gesprek soos vinnige water in ‘n rivier verby sodat dit oppervlakkig bly en sonder konneksie. Geen lang stil poele waar mens ‘n rukkie kan vertoef, en jou behaag in die lekkerte van ‘n ander persoon se menswees nie.
Gee my enige dag ‘n een-tot-een gesprek oor ‘n koppie koffie of ‘n glas wyn en ‘n kuier langs die see of in ‘n mooi park. Iewers waar mens die buitekant kan ervaar en jou binnekant kan blootlê. In my 45-ure plus week, en soveel wat ek nog probeer inpak – gym, gesin, trips veearts toe, supermark, ens., is tyd vir snuffel in boekwinkels, my musiekspeellys of podcast terwyl ek op die pad is, en diepsinnige kuiers met naby en interessante mense, kosbaarder as goud.
Want dis kos vir die siel.
Good company in a journey makes the way seem shorter. — Izaak Walton
Laat 'n boodskap