Die pad oor Calvinia

 

Francois leun oor die klein swart en wit kiekie wat ek vir hom aangee, kyk lank na die klein figure afgeëts teen die landskap, trek aan sy pyp, sê dan: “Dis my ma, en jou pa hier voor teen die rots, en ek en Kobus bo-op. Ons was op pad terug na Alheit van Spitskop waar ons by Ta’ Annie-hulle gaan kuier het, en het langs die pad gestop. My pa het die foto geneem. Die kar was ‘n 54 Chev. Blou.” My oom kyk nog ‘n rukkie, gee dan die foto langtand terug waar ek dit tussen die ander plaas in die skoendoos.

My familie se storie bestaan uit kiekies langs die pad. Dis ‘n reisverhaal van die Noordkaap, die Karoo, Klein Karoo. Die wildtuin. Foto’s van karavaanvakansies, padkos by padhaltes, kiekies van mense lank gelede in swart en wit vasgevang. Mense wat ek net deur foto’s ken. Familie bymekaar, Gatsby haarstyle, regaf rokke, kouse met hakskoene, manshoede by swart pakke. Motors van verskillende vorms en style deur die jare. My pa en sy broers kon die automobiele altyd trots eien, die model, die kleur, die era.

En al die pad, langs die pad, die landskap. Ons spore kriskras deur die Noord-Kaap, die plekname deel van ons DNA – Pofadder, Pella, Alheit, Augrabies, Springbok, Alexanderbaai, Kamiesberge, Boesmanland, Vaalharts. Vandaar weer verder versprei soos ‘n waaier, en tans is daar familie in Amsterdam, Taiwan, Singapoer, Oman, Australië, Nieu-Seeland, Johannesburg, Bloemfontein, Oos-Kaap, Kaapstad, Namibië.

Maar altyd weer terug na die Noord-Kaap. Ons grootoupa het transport gery, en dalk is dit waar die storie begin van groot horisonne, oop veld, blou lug en wit wolke. Nou nog is ek en my sibbe op ons gelukkigste as ons die pad kan vat, die lang pad, die vêr pad waar die land en die lug een word in die verte.

Die afgelope April het ek weer aan daardie hunkering uiting gegee, langpad gery, soms grondpad, hande op die stuur, musiek kliphard gedraai, so dan en wan RSG net vir die Afrikaans. Kaapstad, Clanwilliam, Van Rhynsdorp waar daar ‘n familieband is wat ek nog wil gaan opsoek, Van Rhynspas met sy grootse uitsig, Calvinia, Carnavon, Britstown, Hopetown, Vaalharts.

Die landskap skuif voor my gretige oë verby en ek verkyk my, drink my vol aan die skakeurings van bruin en rookvaal blou, die deinende oeroue landskap en die Karoo randte plek plek wat mens eenvoudig nie in ‘n foto kan vasvang nie. My hart juig vir die groen wat deurslaan na die reën, maar die veld tussenin is nog morsdood vanweë  die droogte – sal lank neem om te herstel, dekades, is ek vertel. Die meeste boere voer hul vee, ek sien nie skape in die veld nie, en daar waar dit nog nie gereën het nie, nou ja die landskap is leweloos, windpompe staan verstar langs die pad, huise verlate.

Tog, elke dorp het sy storie en sy toerisme juwele wat dui op ‘n hart wat warm klop. Clanwilliam se rustige strate en mooi koffieplekke en Kunshuis, Van Rhynsdorp se Letsatsi Lodge, Calvinia se Calvinia Museum en Hantamhuis, Williston se Williston Mall, Carnavon se Lord Carnavon gastehuis, om maar net die te noem wat ek raakgeloop het op my deurtog. Langs die pad loop ek mense raak wat gesels, praat oor hulle wêreld, hul doendinge, hul hart vir die plek. Elke plek het ‘n storie, elkeen se storie kan ek my verder aan verluister.

Ek kry Afrika onttrekkingsimptome, besef ek as ek soos in ‘n droom tussen Britstown en Hopetown ry, die lug vol helder wolke oor nuwe savannah en doringboom veld. En ek weet dat daar vir my min dinge lekkerder is as om die langpad te vat. Om ver horisonne op te soek. Wêreldwyd, ja. Maar om uiteindelik terug te kom met dieselfde pad. En die keer langer te vat, meer te stop en gesels, langer te vertoef.

Want die landskap het baie tyd.

9 thoughts on “Die pad oor Calvinia

Add yours

  1. Na my pa se dood het ek vir n jaar of so by Oupa Fanie en Ouma Lettie op 1K9 gebly. Die kere wat ons gery het, gewoonlik vir n begrafnis of so was hoogtepunte, en daarvan onthou ek die padkos so goed … eers soek ons n goeie koelteboom met sement tafeltjie en bankies, en dan word alles uitgepak en die seen gevra … netjies in n koekblik met prentjie van n dogtertjie op, hardgekookte eiers, gebraaide wors, toebroodjies van tuisgebakte brood en die fles met swart koffie!

    Liked by 1 person

  2. AI vat jy my nou terug na ons kleintyd en groodword jare. My hart en gemoed is vol van heimweë na dit wat was. Baie goed geskryf, doen so voort. X

    Liked by 1 person

  3. Jy skryf so pragtig oor jou reise, ek verlang sommer na sekere van hierdie plekke waar ek nog nooit was nie.☺ Bewaar jou fotos, ek het weer nie baie nie. Moet maar so probeer onthou wie, waar en wanneer. Tog, dis ons sn, die herinneringe.

    Liked by 2 people

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s

Create a website or blog at WordPress.com

Up ↑

%d bloggers like this: