Nog hier

Kollega Cindy hoor jy ver aankom, haar lag en môre-groet kom om die draai lank voor haar lyf. Sy het daardie oorlopende maat van selfvertroue wat mens ander net kan beny. En ‘n vry sê oor alles en almal. Ek hou van haar, ek weet presies waar ek met haar staan. Sy kom graag gesels by my lessenaar. Soms, as ek bitter besig is of nie gepla wil word nie, sit ek my oorfone op as dekking. Dit hou haar nie noodwendig weg nie.
Vanoggend kom wys sy my haar grasgroen skoene, haar ode aan die dag. So groen dat ‘n Karooskaap dalk daaraan sou kon vreet. Groener as Sparletta Crème Soda, ‘n spatsel van kleur en uitbundigheid by haar blou en wit check broek.
CIndy en ek bewonder gereeld mekaar se skoene – ek in die kleurspektrum van salmpienk, oranje en rooi, sy in groen of blou.
Ek vertel haar die storie van my ander vorige kollega, Mariaan, by my werkplek in Midrand jare gelede. Wat ook so ‘n mens-mens was, en toe skielik, onverwags tydens ‘n roetine operasie dood is aan ‘n bloedklont. Op 55. By die begrafnis dra haar dogter grasgroen skoene. En sy praat oor haar ma se lewe. Haar ma wat die groen skoene vir haarself gekoop het in die jaar voor haar dood, want sy wou nog altyd sulkes gehad het. Haar ma wat uitbundig gelewe het. Miskien minder luid as Cindy, maar steeds met klank en kleur en lewenslus wat tot vandag toe by my resoneer.
Nie elke dag is ‘n grasgroen skoene dag nie. Sommige dae is grys en bruin en vaal, soos stof. Van die lewe se pyn en teleurstelling en gevoel van verwerping by tye, daarvan kan elkeen getuig, ook die Cindy’s van die wereld. Daar is geen twyfel dat ons almal soms ‘n klap kry wat mens nie voorsien het nie en dinge nie uitwerk soos dit moes wees nie. Die pad wat jy op die ou end loop en waarop jy terugkyk, is nie die een waarvan jy gedroom het toe jy jonger was nie. Maar tog – as jy fyn kyk, sien jy die hele lap van grys en bruin en oker, en die flertse groen en rooi en pers wat jy self daarin geweef het.
Die kleure van jou lewe, die keuses wat jy maak, die verhoudings wat jy bou, en hoe jy reageer op die dinge wat op jou pad kom, is alles deel van die verweefde tapisserie, die kleure van jou lewe. En mens leef dit wel volgens jou persoonlikheid, miskien nie luid en en met uitbundige kleur nie, maar soos wat dit vir jou sin maak.
Lewe is om sin te maak van jou bestaan. Vir sommige is dit ‘n geploeter, vir ander is dit om kleur te vind waar dit te vinde is.
Marti Friedlander, ‘n Nieu Seelandse fotograaf, het in een van haar laaste onderhoude op 85 ook iets van daardie lewens ingesteldheid weerspieël, toe sy gevra is of sy ‘n plan gehad het vir haar lewenstaak.
‘Was there ever a plan? “No!” The very idea. “The plan was to survive every day. And I’ll tell you something, it’s still the plan,” she says. “I wake up every morning and I say to Gerrard, ‘Darling! We’re still here!”’

Geniet die dag. Jy’s nog hier.pexels-photo-196666.jpeg

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s

Create a website or blog at WordPress.com

Up ↑

%d bloggers like this: