‘n Ander plek

IMG_3073.jpgDie man wat aan my motor kom werk, se naam en van is so Afrikaans, hy kon ‘n ATKV boekprys kortlys gehaal het. Maar hy praat Engels. Van Zimbabwe, sien.
Op die foon noem hy my ‘dear’. En in die teksboodskappe: “What is street name dear.” En toe ek die afspraak wou uitstel, “Sorry dear. That is not possible. I have booked others in now. Frikkie.”
Ek verwonder my altyd aan die eklektiese mengsel van mede Suider-Afrikane wat hier uitspoel in die antipodes. Anders as die eendersheid waarmee ons grootgeword het op die Suid-Afrikaanse platteland – almal in dieselfde kerk, of dan in een van ‘daardie ander’ kerke. Kinders in dieselfde skool, almal eenders in skooldrag. Knieë, tande, bene, mooies, lelikes, min variasie daar. Almal dieselfde taal, die Engelse in ‘n ander skool. Twee ouers, twee karre meestal, adres bekend, almal se doen en late en politieke oortuiginge hoofstroom. Soort van. Daar was twee kategorieë waaraan mens mense in jou gemeenskap kon meet – ons en hulle.
Miskien was ek destyds te jonk om andersheid raak te sien.
Toe Frikkie opdaag, lyk hy soos ‘n profeet wat lank in die woestyn rondgedwaal het. Sonverbrand, maer, verdroog en verskrommel. Grys jeremia baard en hare. Hy werk uit sy motor se kattebak. Die installasie sal twee ure duur, ‘dear’.
Ek wil my bedink, maar onthou toe hy kom met goeie verwysings.
Tyd vir praat is min, hy het nog baie om te doen vandag. Hy is al 13 jaar hier. Geen familie nie, buiten sy ‘partner’ en die se twee kinders. Wat het hy in Zimbabwe gedoen? Rhodesië, help hy my reg, terwyl hy ‘n verstelling maak aan ‘n elektroniese koppeling sonder om op te kyk. “Farming. Now I do this.” Ek kry half die idee ek moet liewer nie verder vra nie, los hom dat hy sy werk doen. Vra of ek vir hom iets kan bring, maar nee.
Na twee ure laat weet hy per teksboodskap. ‘I a finished dear.’
Ek gaan betaal, sê dankie. Praat oor die weer. Ja, kla hy, New Zealand weather. Ek gee nie om nie, sê ek, ek hou van die weer hier. Not good for my job, sê hy. Maar ek kry tog die idee die weer is nie sy probleem nie, net dat hy eerder op ‘n ander plek sou wou gewees het.
Op ‘n plaas in Afrika. In die son. Tussen beeste.
‘Bye dear’, sê hy dan, klim in sy kar en ry weg deur Auckland se blinkgereënde strate op pad na sy volgende jop.

3 thoughts on “‘n Ander plek

Add yours

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s

Create a website or blog at WordPress.com

Up ↑

%d bloggers like this: