Stuur groete vir Laurika Rauch (2006)

mg_89651Dis Maryna se skuld dat ek ompad ry by die Afrikaanse Kaffee (sic) langs, op pad na Albert-kind se swemles toe. Dis sy wat my gevra het om gou daar te stop om souttertbestandele te kry vir daardie spesifieke een wat sy wil hê ek moet maak.

Dis haar skuld dat ek die rakke besnuif en op die ou end wragtag ‘n blikkie Vienna’s op die rakke opspoor, tussen Mrs Balls blatjang en Johnson’s babapoeier. Mens kry dit nie in Auckland se supermarkte nie, en net nou die dag het ek so lus gekry om daardie souttert te probeer wat my ma altyd gemaak het. En $4,95 dollar is seker nie te veel daarvoor nie. En Maryna sê toe entoesiasties ja, bring vir kuier.

Die Kaffee in Auckland se Browns Bay net na vyf op ‘n Woensdagmiddag in November is skielik besig soos al wat leef en beef vinnig kom inloer voor toemaaktyd. Wintertyd is dit anders, dan mik almal woonhok toe voor dit donker word. Maar die someraande in Nieu-Seeland, kort soos die seisoen is, is ‘n vreugde, en dit het pas somer geword, met die lug helderder as glas.

Ek begin krap in die CD rak, en kry wat ek soek, betaal in Afrikaans by een van die baie van die uitgebreide familie van Suid-Afrikaanse immigrante wat die winkel besit, en stap uit in die hoofstraat.

Die CD glip maklik in die speler in. Laurika se woordmusiek vul die motor, woorde wat beelde oproep en daarmee saam die verlange na grasveld van die Vrystaat, die blou berge van die Boland, die skrapsbos en rante van die Karoo, ‘n oop en wye landskap.

Ek ry strandlangs en verkyk my soos altyd aan die eilande in die wye Hauraki golf, met die wolke die kleur van spookasem. Hoewel vroegsomer, is daar talle mense wat piekniek hou in die park, met vis en tjips in koerantpapier, kinders al spelende, honde draai-draai tussenin. Tog vir my vreemd dat die honde hier mekaar nie byt nie, blaf en groet en draf verby, ja, maar nooit byt nie.

Ek draai by die roundabout swemskool se kant toe, ry verby Foodtown waar ek weekliks die gesin se kos koop, draai in by die swemskool met dieselfde naam as die vulkaaneiland, Rangitoto, los vir Albert by die mooie Sophie wat hom afrig en gaan sit in die kar en luister verder.

Laurika se klanke trek by die oop venster uit, en bereik die ore van die Kiwi mechanic wat langs die swemskool motors regsien. Hy kan die Afrikaanse aksent op ‘n myl herken, hier is baie van ons.

Sy sing, vir my, vir Albert, vir Maryna – luistervriendin, berader, kinderoppasser, saamkuier-pel, boekvriendin en koffiedrinkvriendin (sy drink nie wyn nie), ek-sal-vir-jou-bloedskenk-vriendin: “Miekie, Miekie – more reis ek oor die see, die veerboot vaar so kwart voor twee.”

Afskeid en verlange, verlange en afskeid.

Voor my in die rivier waad die eienaardige blinkblou pukeko’s op soek na iets om te knibbel. Koddig met hul klein, rooi snawels en lang pote, herinner hulle effens aan ‘n kiewiet. ‘n Klomp mallard eende loop saam, en skel op ‘n groep kinders wat raas-raas verbyloop.

Ek blaai deur ‘n tydskrif en wonder of ons vanaand sal tyd hê om by Long Bay strand te gaan loop, so tussen die kosmaak en die huiswerk deur.

Ek teug aan “Die Gang”, en verlang na die Oos-Vrystaat se pragtige sandsteenhuise, met die houtrelingstoep. Ek dink aan Clarens en Rhodes en Ben Macdui, my studentebergklimdae. Lesotho se berge. Al die plekke waar ons eenmaal was.

“Blouberg se strand” wil nie juis werk nie, ek onthou net al die jappies wat deesdae daar bly, maar die Kaap, die Kaap, dit weet mens tog, is darem mooi. En daar is niks soos ‘n goeie sax om jou te laat voel jy het ‘n google-earth view van die Kaap en sy berge nie. Ek moet bietjie weer gaan kuier …

Na swem ry ek en Albert terug huis toe, met Beach Road langs wat by Waieke strand verbyloop. Waieke lyk altyd soos ‘n poskaartfoto. Somers boer ons hier, stoele onder die pohutukawa wat rooi staan in die blom, kinders op hul seilbote, of op die strand. En saans, as die maan op die water lê, wil ek die plek in my siel indrink.

Hier, net hier, moet hul eendag my as strooi, het ek eendag gesê. Hier of by Kleinbrak anderkant Mosselbaai.

En vir Albert met die koningsnaam – ses jaar oud, en twee jaar in die land, wat weier om Afrikaans te praat, maar vir wie ek elke ander aand “Oom Jan sny koring” moet sing voor hy slaap – sing Laurika “Stuur groete vir Mannetjies Roux”. En hy sing sowaar bietjie saam.

Ek dag so, dink ek so ietwat vergenoegd. Daar is nog Afrikaans in sy bloed. Wonder of die kind ooit sal verstaan van te min reën.

Bult op en af, huis op stadshuis, groen heuwels in die verte, tot by my huis in Torbay, verby die klein winkelsentrum met die zebra crossing waar motoriste geduldig stop vir elke voetganger, af met County Road tot in Glenvar Road, ry Albert en ek en luister in stilte.

Soos ek ry, breek my hart oor die wereld van die Kamdeboo, windpompwereld van Jacob F. de Beer, en die noodlot van die liefde.

Die hoërskool waar die tieners skoolgaan lê op die heuwel op regterhand. Ek dink weer hoe goed hulle hier aangepas het, die wereld oop voor hulle, en met goeie vriende.

Ek draai die motor se neus in by die cul de sac bo teen die bult, ver van enige tsunami, en met die noordwes wat soms teen die huis beur, die huis in die bos met bome met vreemde name, maar niks soos die apiesdoring by die ou huis nie.

Af met die right-of-way tot by die huis teen die skuinste, drie verdiepings, vyf mense, twee honde, en as die son nie buite skyn nie, twee katte ook. Twee motors, al die meubels oor jare bymekaar gemaak, foto albums, skilderye en memento’s op rakke en teen die mure. Ons lewe. Een wat ons hier weer aanmekaargelas het en wat mens koester.

Laataand, toe ek vir Albert klaar naggesoen het, sit ek die CD weer op en gaan sit en werk op my rekenaar.

Ek kliek op my inbox. Geen nuwe nuus van die huis nie. Ek sal moet skryf om te kan kry, besef ek. Dit raak stil in die huis.

Ma, sê Albert uit die donker kamer, play that song again.

Seën my pa, en seën my ma, en seën my oom op sy plaas in Afrika.

11 thoughts on “Stuur groete vir Laurika Rauch (2006)

Add yours

  1. Hartroerend mooi Louisiana – werklik hartroerend. So poeties verwoord, Ek sal dit weer en weer lees en jou hart en waarnemings indrink. Dis ekke hier en nie Genna nie, maar ek weet glad nie hoe om ek te wees op hierdie kommentaar nie – Lol. Sal haar bietjie vra.

    Liked by 2 people

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s

Create a website or blog at WordPress.com

Up ↑

%d bloggers like this: