‘n Stukkie hemel

Sorg, het ek besluit, is die belangrikste ding in die lewe. En ek wens ek het dit vroeër geweet. Geweet soos in besef, want as jy dit op ‘n dag besef, dan kom jy dikwels agter sorg is lankal in jou DNA. Sorg van familie, van verhoudings, van jou huis, jou werk, jou gemeenskap.

En as jy dit eers verstaan, kan jy dit afbreek in al sy elemente:

Daar is die sorg van omgaan met ander – die mense vir wie jy lief is, aan wie jy help bou, soos jou kinders, en wie vir jou belangrik is, die mense wie jy kies om in jou hart te neem.

Daar is die sorg van dinge met sorg doen – jou werk, jou huis, jou tuin, die klein take van die dag – skottelgoed was, ‘n kas regpak, ‘n tafel dek. Die manier waarop jy jou werk doen, die manier waarop jy sorg vir jou loopbaan, ook die manier waarop jy sorg hoe jy omgaan met geld, met die omgewing, met die wêreld waarin jy beweeg – minder gebruik, minder mors, en meer omsigtig wees.

En daar is die sorg van omgee vir jouself  waarsonder die ander nie moontlik is nie. Die sorg van jou emosionele binnewêreld. Soos in selfsorg – om op te let na jou voorkoms, jou dieet, jou gesondheid, jou emosionele belewenis, jou menswees. Tydmaak vir jouself en jou behoeftes in ‘n besige dag van sorg vir jou werk en jou mense.

Laasgenoemde is immers nie maklik nie, mens is dikwels geneig om hard te wees met jouself. En nie aan jou eie behoeftes aandag te gee nie. Om nie gedagtig (mindful) te wees van jou ervarings, jou emosies en jou behoefte aan parkeer nie – ‘n tyd te neem vir asemhaal, die son op jou vel te ervaar of net stil te staan en die oomblik te geniet nie. Vir my is selfsorg soms net goeie musiek, ‘n uur met ‘n goeie boek, vroeg saans bed toe, ‘n oggend in die gym. Kuier met vriende, stap langs die strand. Roetine, self-dissipline, dit wat orde gee aan jou soms vinnige lewe, ook dit is selfsorg. En om tyd te maak vir inwaarts kyk, tot stilstand kom en te ontspan.

Soms, sê my slim vriendin, gaan mens self deur ‘n moeilike tyd. En jy val vas, want dit is moeilik om die uiteinde te sien. En dan neem jy dit nie dag vir dag nie, maar uur vir uur. Dalk moet jy onthou jy is net ‘n mens en dit is OK om foute te maak. En dat dit nie selfsorg is as jy te veel daaroor tob nie. Dat tyd gewoonlik die meeste dinge heelmaak, en dat alle probleme makliker lyk as die son daarop skyn.

Daar is die wat nie vir hulself goed sorg nie. Dis in orde om vir hulle om te gee, maar elke mens is verantwoordelik vir homself. Jy kan net soveel ondersteuning bied vir ‘n ander. Op ‘n stadium moet jy terugstaan sodat hulle na hulself kan omsien. Want anders is dit nie goed vir jou nie, en ook nie goed vir daadie persoon nie.  Jy kan nie altyd die redder wees nie, en hy/sy kan nie altyd die afhanklike bly nie.

Want net mense wat vir hulself emosioneel sorg, kry dit reg om ‘n vervulde lewe te lei.

Om om te gee, is die mooiste geskenk van een mens tot ‘n ander. En om omgee te ontvang van iemand wat jou kies, nou ja, dit is ‘n stukkie hemel.

 

2 thoughts on “‘n Stukkie hemel

Add yours

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s

Create a website or blog at WordPress.com

Up ↑

%d bloggers like this: