Verwondering

close up of leaf
Photo by Pixabay on Pexels.com

“Ek verwonder my”, het my een huiswerker altyd gesê as iets haar erg eienaardig opgeval het. Daardie woorde kom soms by my op as ek die wêreld probeer uitpluis vir myself. Oor kwessies veelsydig en uiteenlopend van aard. Soos:

  • Hoekom is die ewige beweging van water – deining, branders, rivierstroming, getye –  so ongelooflik helend? Is dit omdat alle lewe uit die see kom, of omdat mens 70% van water gemaak is – as ek gesondheidsleer reg onthou. Of omdat dit ‘n perfekte simbool is van die verloop van die lewe – branding en kalmte, en konstante vloed en eb.
  • Hoe is dit moontlik dat daar sulke ongelooflike rock musiek uit die 60s en 70s voortgebring is – was dit dan net alles ‘drugs, sex, rock and roll‘? Die kitaar ‘ riffs’ van The Who, die ongelooflike krag van Queen se Bohemian Rhapsody, Meatloaf se rock opera,  wat het hierdie besondere kreatiewe tyd aangebring, wat nou nog resoneer? Wat ‘n bevryding van gees gebring het, wat sover trek soos gelykheid vir vroue, insluitende die vermoë om oor hul eie liggame te besluit, en vir mense in die algemeen om hul identiteit openlik kan uitspreek en beleef, sonder voorskrifte – ‘n totale kulturele omwenteling.
  • Soortgelyk die klassieke musiek van Beethoven, Mozart, Schubert, Shostakovich, Chopin en Elgar, om maar net ‘n paar te noem – waar kom daardie ongelooflike kreatiwiteit vandaan? Soms voel mens dis waar al die vrae en antwoorde van die kosmos resoneer, as jy lank genoeg aandag gee en luister. Net soos die ongelooflike katedrale en antieke suile en moskees wat wêreldwyd opgerig is in ‘n merkwaardige kreatiwe beweging. En die werke van Monet en Degas en Klimt en Picasso. Hoe is dit moontlik dat gewone mense so ongelooflik kreatief kan wees en soveel vertroue het om dit uit te leef ten spyte van ‘n gebrek aan leiding en ondersteuning?
  • En moet ek byvoeg dat selfs hierdie groot geeste ook maar gesukkel het met die lewe, en nie al die antwoorde gehad het nie – Mozart, Van Gogh, Jackson Pollack, Freddie Mercury, om maar net ‘n paar te noem. Dikwels is pyn kuns, en kuns is pyn.
  • Hoe raak mens ooit gewoond aan afstand en verwydering, en die wete dat as die son vir jou opgaan, dit ondergaan oor mense vir wie jy lief is?
  • Hoekom kan ek nie dit wat ek geleer het in die lewe, net so aan my kinders oordra nie, sodat hulle nie deur dieselfde kwessies moet worstel nie. Dat hulle ‘n pad kan loop wat ek alreeds vir hulle vooruitgegaan het, en verder kan groei en beleef as ek, juis omdat hulle ‘n voorsprong gekry het?
  • Hoekom ervaar mense dieselfde gebeure so verskillend? Watter wonderlike programmatuur is in elk van ons ingebou dat ons die wêreld so spesifiek anders kan vertolk en beleef?  Dat my kreatiwiteit anders lyk as joune, en tog, en tog, dat ons kan aansluiting vind by mekaar deur dit wat ons in gemeen het.
  • Hoekom stoei mens so lank met jouself, totdat jy op ‘n dag besef dat al wat oorbly is om te leef, regtig te leef en elke oomblik soos ‘n kleinnood te ervaar. Dat jy aan niks kan vashou nie, dat alles verganklik is, maar ook dat elke belewenis so bitter, bitter kosbaar is.
  • En die volgende dag kan jy jou tong afbyt omdat jy iets totaal stupids sê in ‘n gesprek waar jy eintlik baie wys en intelligent wou klink.
  • En hoekom kan mens nie al jou herinneringe mooi op jou hardeskyf bêre nie? Dat net soos sand deur jou vingers, die memories ook een vir een deur jou vingers glip, om deur nuwes vervang te word, nuwe belewenisse, vernuwing, groei …
  • En die verwondering dat mens kan groei, vernuwe, soos ‘n vlinder uit ‘n kokon kan klim, keer op keer, die son voel op jou vel, die lig sien wat die landskap in kleure van groen en blou en oranje en oker kleur, en voel soos nuut, al is jy oud. Is nie die mees fokken ongelooflike ding ooit nie?

1 thoughts on “Verwondering

Add yours

Lewer kommentaar

Create a website or blog at WordPress.com

Up ↑