Kuikenmoord

mynahphoto

‘n Paar Indiese spreeus (mynahs), verpestings en indringers, bou nes onder die nok van my nuwe woonhuis. Op ‘n manier het hulle ‘n manier gevind om onder die flap van die ventilasiestelsel in te kom, en daar in die pyp ‘n veilige, onbereikbare nes te bou. Dis hoog en nie eens ‘n lang leer kom daar uit nie.

Oor die somervakansie beskou ek die gemors onder die nes vieserig. Grasse, takke, blare, stukkies tou. Die paar kamikaze hul weg in die ventilasiepyp in – dit kan nie maklik wees nie. Maar hulle kom in, dag vir dag, en bou nes, en na ‘n wyle begin die wyfie eiers lê.

Ek sien hier kom moeilikheid. Sê nou maar die kuiken broei uit en skree, en hulle kan nie in nie. Of andersins, die kuiken moet vlieg, maar kan nie uit nie. Die flap pas los, maar tog, vir ‘n voël verg dit vernuf om daarby verby te manuvreur om toegang tot die ventilasiepyp te kry. In ieder geval kan die toestand nie so voortduur nie, die voëls bombardeer behoorlik my huis aanhoudend om klaterend binne te dring. En dit kan net tot verdere skade lei.

Ek kry ‘n elektrisiën om te kom kyk en hy reken, ja hulle sal die flap vervang en ‘n meer toepaslike oplossing vind wat nie ingedring kan word nie. Hy kyk my skuins, vra. Soek jy ‘n humanitêre  oplossing? – menende moet hulle die kuiken red. Of iets. Nee, antwoord ek, die goed is verpestings, doen wat jy moet.

Ek is nie hier toe die werkspan die werk kom doen nie. Miskien ook maar beter so. Laatmiddag, maar nog heelwat voor skemer, kom ek tuis. En hoor die ouerpaar skree. Angskrete. Soos een wat hees word, skree die ma. Die pa agterna. Vlieg heen en weer om die nok, met die nes nou afgesper, skree, wag, vlieg, kom terug. Skree. Fladder. Krys. Onhoudelik. Uitputtend.

Later is dit troetelgeluide – smekend, wag vir ‘n antwoord. Dit word begroet met stilte. Waar daar lewe was, is daar nou niks.

Die stilte, die gebrek aan antwoord, maak die paar rasend. Tot donker hou hulle aan, blaas dan die aftog. En tog nie, laataand hoor ek op die nok ‘n geluid of twee wat my laat dink hulle is nog nie klaar met daardie nes nie.

Die doel wat elke lewende wese het, bepaal sy optrede. Dit wat sin gee. Dit wat op daardie gegewe tyd die bestaansrede is. Vir die twee is dit tans daardie kuiken, daardie nes. Die verlies is vernietigend.

Verloor mens (of dier of voël) jou doel, besef ek, dan is jy ook verlore, verpletter. Jy fladder gekwets, niks maak sin nie. Oor tyd van ure, dae, weke kom die besef – jy moet aanpas, anders gaan jy tot niet. Daar is nie ‘n alternatief nie. Ons is almal op soek na sin, want daarsonder bestaan ons bloot.

Ek vermoed die twee gaan nog  ‘n paar dae rondom die nok skree. Dan aanvaar dat daar niks meer is wat hulle kan doen nie. En verhuis. Elders oorbegin.

My dak is veilig. Daar sal nie weer nesgebou word nie. Nieteenstaande,  kom lê die ouerpaar se angs ook in my hart. Op ‘n manier is mens tog verweefd met dit wat jy ervaar. Met die swaarkry van ander. Veral as jy aandadig is.

Dis nie elke dag dat ek moord pleeg nie.

One thought on “Kuikenmoord

Add yours

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s

Create a website or blog at WordPress.com

Up ↑

%d bloggers like this: