Drif

Turquoise-and-Yellow-1
Loela is die mees kreatiewe energieke mens wat ek al teegekom het, sy vat die lewe met drif en wurg al die beste goed uit hom uit.
Haar tuin kraak onder haar energie, in die vulkaan-as van Auckland breek sy grond met ‘n graaf, dwing sy met kunsmis en vloeke vrugtebome om onder haar hand te groei, indien nie gedy nie, bestraf sy die bure se indringer morning glory (purperwinde) met woord en daad, en tussendeur laat sy die spreeus van die omgewing lustig eet, want waar anders moet die voëls deesdae koskry, mense kweek nie meer voëlkos in hul tuine nie, die goed verhonger, argumenteer sy.
Ek sit verwonderd en verkyk my aan haar kreatiwiteit. “Ek is nie kreatief nie”, verweer ekmy , “met woorde ja, maar nie met skeppings nie.” “Ek sal jou nog kreatief kry”, belowe sy, sy wat dissertasies oor die onderwerp skryf. Wat klas gee vir MBA studente om hul te leer dat dit wel in hul skuil, wat gevra word om lesings oor die onderwerp aan te bied.
Ek skud my kop, ek weet waar my drif lê, en dit sluit nie die skoonmaak van kwaste in nie.
Die turkooisgroen blou wat haar gunsteling kleur is, troef sy met heldergeel, en ander kombinasies wat ek nooit onder die knie sou kry nie, maar in haar hand word dit kuns.
Haar huis kreun onder die versameling van weggooi goeters wat sy by die plaaslike ‘opshops’ (tweedehandse liefdadigheids winkeltjies) uitsnuffel en dan ‘n simfonie van liefde maak. Kristalglas, uiterste mooi klein potjies – kleurspatsels en taktiele aanvatlikheid – geverfde lap, pragtige boekversamelings van kosbare kleinnode wat sy opgaar vir haar nageslag – hier ‘n kol rooi, daar pers, oranje, glas, hout, ensovoorts. In haar huis teen die hang wat uitkyk op die turkoois see met al sy stemmings – kalm, deinend, windverwaaid, woedend.
As sy kosmaak, is dit ‘n kunswerk, klein gawes opgedien in bordjies wat op sigself skeppings is, vreugdevolle offerandes, ‘n viering van die lewe.
Want Loela, briljant van verstand, kundige leermeester, en liefdevolle ma en amper ouma, vat die lewe met drif. Vat hom in oorgawe. Fok die swaarkry, fok die bitter. Die lewe is ‘n uitspansel van kleur en hart. En sy gee en gee en gee, tot haar hart omtrent breek daarvan.
Ek het haar lief vir haar drif. Haar uitgesproke en gedeelde passie vir almal en alles wat sy liefkry, van die voëls wat in haar tuin eet tot die kleinkind wat groei in haar kind se buik. As kuiergas kry ek die volle bombardement van aandag en omgee, van gesprek tot in die nanag, van besondere breinkos.
Ekself kruip versigtig om emosie, ek het iewers gekies om flegmaties en analities daarmee om te gaan – to roll with the punches, te buig in die wind. Getemperd te lewe. En daarmee saam geleer om nie emosioneel befok te raak van woede, ontsteltenis of passie nie. Te vat wat kom, dit deur my kiewe te laat beweeg soos ‘n vis, te proe, te voel, en dan aan te beweeg.
Soos ek aanbeweeg, vat ek die kleur saam van al die wat my lewenspad kruis – elkeen se drif, op sy eie manier. Ek voeg klank by, en woorde, en beeld, en vertel die storie.
Dis my mosaiek.

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s

Create a website or blog at WordPress.com

Up ↑

%d bloggers like this: