Vlerke

IMG_4048.jpg

I need to talk about my future, whatsapp die tiener my terwyl ek in die Kaap kuier.

Ok, antwoord ek. Versigtig.

Nothing, bad, I promise. Hy ken sy ma, sien, weet sy bekommer al klaar.

Hy is in die laaste jaar op skool in Auckland, NZ. En dink aan sy toekoms. En my hart wil breek as ek dit lees, maar ook juig, want hier, wragtag, hier, wil hy gaan staan en selfstandig raak.

Want hy het Aspergers.

Want toe hy hoërskool toe is, ‘skuus my kind, het ek verdomp nooit gedink hy gaan dit maak nie.

Maar die skool was ontsettend goed vir hom. En vir my. Daar was een, miskien twee kere, wat ek hom moes gaan oplaai vanwee ‘n krisis.

Toe hy in die laerskool was, veral die later jare, moes ek gereeld vroeg ry by die werk om hom te gaan afhaal, want hy het ‘n (emosionele) krisis gehad. Soos die keer in sy eerste jaar toe hy die klas verlaat het, en toe hulle hom kry iewers in die kantoorblok, het hy ‘n stoel gesleep tot by die elektriese verdeelbord en aan die knoppies begin karring wat die hele skool se elektrisiteit beheer. Hy was vyf.

Soos in noodtoestand in ‘n Nieu-Seelandse skool.

Soos met sy eerste saalbyeenkoms toe hy – regtig – ‘n vloermoer gegooi het, en met sy hande oor sy ore neergesink het op die vloer omdat hy nie die geroesemoes kon hanteer nie. Sensory overload, het sy arbeidsterapeut dit later genoem. Dit was net te veel sensoriese insette vir hom om te verwerk op daardie oomblik.

Daar was kere wat ons op die strand of by die park gesit het, en ja wragtag, hy was so pas hier, maar skielik is hy weg. Soos in nêrens nie. En ja, dit is Nieu-Seeland, maar as jy al ‘n uur loop en soek, en skielik kom ‘n vreemdeling uit die bloute met jou kind aan die hand aan, nou ja, jy voel soos ‘n wurm, ‘n angstige een, maar nietemin, hoe verloor mens ‘n kind!

Daar was ‘n ander keer wat ons die nooddienste gebel het, na twee ure se soek op die strand. Net om hom rustig in die duine te kry waar hy sit en speel. Goddank.

Dan was daar die kere toe hy korttermyn uit die skool geskors is – stood down, noem hulle dit hier. Soos die keer toe ‘n kind, ook ‘n probleemkind, hom ontstig het, en hy dié van die stoep afgestamp het. Stood down for two days. Soos die keer toe hy een van sy pa se rondlê leë patroondoppies opgetel het en skool toe geneem het en vir sy maats gewys het. Stood down for four days.

Wat maak ‘n ma dan? Sy neem tyd af by die werk, werk van die huis af, is dankbaar vir ‘n goeie werkgewer wat verstaan. Kry hulp van buite instansies soos verenigings wat ouers en veral kinders ondersteun. Maar heel dikwels is jy op jou eie. As jy in anderland bly, het jy niemand, buiten een of twee goeie vriendinne wat jy kan bel vir hulp nie. (Goddank vir vriendinne). En jy hanteer dit, want jy het geen ander keuse nie.

Die diagnose van Aspergers op 11 was beide ‘n verligting en ‘n kruis. Ek het dit tog geweet. Ek het jare lank reeds aanvaar daar was ADHD in die prentjie en ook ander kwessies. Maar toe dit my tref, tussen die oë, geen doekies omdraai nie, toe was dit of iets in my breek, vir ‘n rukkie. Ek dink dis toe ek regtig grootgeword het. Moes besef, die lewe is flippen tough, maar ek en my kind is ok. He is not broken, om my terapeut se woorde te gebruik, hy is net anders bedraad. Hy is uniek, hy het spesifieke eienskappe, hy is eintlik bitter baie pret, maar sy sosiale radar is anders.

Ons het so baie goed probeer – sensory integration therapy, social skills therapy, brainwave integration (wat ek tog gedink het die beste gewerk het), ensovoorts, ensovoorts.

Ons het eenvoudige goed gedoen, soos perdry, swem, ski, en gym. Alles het ‘n verskil gemaak.

Tuis het ons geleer van die sosiale vaardighede wat nodig is om jou plek in die samelewing in te neem – persoonlike higiëne, huistake, help met kosmaak, die diere versorg, goeie maniere.

Hy het sowaar vriende gemaak. En mense gevind wat met hom kon saamgesels. En almal in die woonbuurt het hom geken, want hy het koerante afgelewer, en dan sommer ‘n geselsie aan te knoop. Daar was kere, en nou nog, waar ons moes intree om hom te laat verstaan, jy kan nie sommer by jou suster se werk instap en vra of iemand jou huis sal neem nie. Sekere goed is nie ok nie. Maar die redes vir sulke ingrype het minder geword oor tyd. Ons het hom geleer hoe om sy vlerke te sprei, openbare vervoer te gebruik, afsprake te maak met vriende. Goed wat ander kinders vanself optel, moes hy leer – soos taal vir ‘n dowe persoon.

Hy het hierdie vermoë om met besondere diepte te praat oor onderwerpe wat min ander mense sou interesseer. Soos hoe die ringe van Saturnus ‘n rol kan speel om ‘n ruimte gemeenskap te kan onderhou – of so iets, ek moet erken ek het later opgehou luister. Die potensiaal van sonenergie om  te … whatever. Of oor die interessante maniere waarop die temas in video games ontwikkel word.

Jou kinders hou jou op jou knieë, het een slim predikantsvrou eendag gesê op ‘n byeenkoms.

Inderdaad.

En so het ons geleer langs die pad. Ek van hom, maar ek dink ook hy van my, want hier is ons dan, met toekomsmoontlikhede wat ek selfs drie jaar gelede nie sou voorsien nie. En hy hou ook van Bon Jovi, Led Zep, Queen, Pink Floyd, Neil Diamond en ACDC.

Ons is nou daar waar ek nooit geglo ons sal wees nie. En ek het soveel geleer in die proses. En ek is so ontsettend dankbaar.

Want ek onthou vir Wynand. Hy was in my klas op skool. En ek herken so baie van sy pyn en swaarkry. Want hy was die arme bliksem wat net nie kon byhou nie. Die eenkant ou wat in die wiskundeklas die onderwyser teen hom gehad het. Wat nêrens ingepas het nie. En ek weet nie of iemand ooit sy kant gevat het nie. En of hy iewers ‘n ‘break’ gekry het nie.

En ek wonder nou nog wat wat van Wynand geword het. Ek wens regtig uit my hart uit dat hy ook sy pad gevind het.

Bo-aan is ‘n foto van Cheryl Strayed se boek Tiny Beautiful Things, wat ek ongelukkig eers onlangs ontdek het.

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s

Create a website or blog at WordPress.com

Up ↑

%d bloggers like this: